Aloha! Ek sien elke jaar verskriklik uit na wat volgende die koswêreld gaan laat gons. Die afgelope paar jaar het gefermenteerde kos, piekels en askos (kos wat op kole of met kole gemaak word) hoogty gevier. Julle wonder seker oor 2017… Wel, haal uit die hoela-hoeps en druk julle tone in die sand. Vanjaar kom die grootste kostendens, poke-bakkies, van die tropiese eiland Hawaii.
Poke-bakkies
Poke (uitgespreek as poh-keh) beteken nie die ‘poke’ wat vieslike vreemde mans op jou Facebook-blad doen of ‘n wrede gekafoefelry nie. Poke is ‘n Hawaiiese werkwoord wat ‘om te sny of te kap’ beteken. Eeue oue poke-bakkies bestaan uit gemarineerde blokkies rou seekos soos tuna, salm of seekat wat dan op rys in bakkies bedien word. Mense, dié unieke gereg is my soort kos, maar my vol nonsens, vleis, rys en aartappels Ier wou nie sy mond aan my ge-poke-ery sit nie. Ja, dit vat meer as net ‘n ge-‘poke’ om hom te verlei.
Tuna-poke-bakkies
As jy mooi daarna kyk is poke-bakkies ‘n tipe van gedekonstrueerde soesji. Soos met soesji, is die geheim dat jy die beste kwaliteit vars vis moet gebruik. Dit moet nie visserig ruik nie en jy moet dit so vinnig moontlik ná aankope gebruik. Maak ‘n sojasousmarinade van jou keuse deur byvoorbeeld gemmer, knoffel, koljander en rissies by te voeg. Ek het my vismarinade verder met sesamolie gegeur en gebalanseer met ‘n bietjie rysasyn. Met die rys kan jy ook lekker speel: gebruik gewone rys, soesji-rys, bruinrys of quinoa. Die rys word dan warm saam met die koue vis bedien. Klink miskien vreemd, maar die kontrasterende warm en koud is deksels lekker. Rond af met gerasperde beet en snytjies radyse. Heerlik, vars, voedsaam en gesond.

Salm-poke-bakkies
Hier het ek ‘n marinade van sojasous, gemmer, wasabi en suurlemoensap gemaak en dit met gerasperde wortels, avokado en babamielies afgerond. Ono!
Ek het nog altyd net van Hawaii gedroom: die warm seewater, die bedwelmende kleurvolle blommekranse, die polsende marimba-musiek en die vars seekos. Gelukkig kan ek nou ‘n stukkie van die droomeiland met ‘n lekker ou poke ervaar.
Stappe om poke-bakkies te maak
1. Kies die bakkies: besluit op die grootte van jou porsies
2. Kies jou basis: witrys, bruinrys, soesji-rys, basmati-rys, quinoa
3. Kies jou proteïen: tuna, salm, seekat, garnale, kammossel
4. Kies jou marinade: sojasous, knoffel, gemmer, sesamolie, rysasyn, rissies, suurlemoensap, wasabi, mayonnaise
5. Kies jou groente: wortels, beet, komkommer, radyse, avokado, sprietuie, uie, babamielies, ertjies
6. Kies jou ander geurmiddels: koljander, sesamsade, rissies, ingelegde gemmer, spruite, mikro-kruie
Tuna-poke-bakkies
Bedien 4
400 g vars tuna
60 ml sojasous
2.5 ml sesamolie
20 ml rysasyn
5 ml gemmer, gerasper
2.5 ml knoffel, gerasper
2.5 ml rissievlokkies
500 ml gaar rys van jou keuse, warm
80 ml rou beet, gerasper
2 radyse, fyn gesny
‘n handvol vars koljander, gekap
sojasous vir bediening
Sny die tuna in blokkies. Meng die sojasous, sesamolie, rysasyn, gemmer, knoffel en rissievlokkies saam. Gooi oor tuna en marineer vir ‘n uur in yskas. Skep ‘n halwe koppie rys in elke bakkie, rangskik die tuna, beet en radyse bo-op. Bedien met vars koljander en meer sojasous langs die kant.
Salm-poke-bakkies
400 g vars salm
60 ml sojasous
5 ml wasabismeer
20 ml suurlemoensap
5 ml gemmer, gerasper
500 ml gaar rys van jou keuse, warm
4 babamielies, gesny
60 ml wortels, gerasper
1 avokado, in blokkies gesny
‘n handvol vars koljander, gekap
sojasous vir bediening
Sny die salm in blokkies. Meng die sojasous, wasabi, suurlemoensap en gemmer saam. Gooi oor die salm en marineer vir ‘n uur in yskas. Skep ‘n halwe koppie rys in elke bakkie, rangskik die salm, babamielies, wortels en avokado bo-op die rys. Bedien met vars koljander en meer sojasous langs die kant.