Sondae is vir my die lekkerste dag van die week. Dan lê ek laat, met ‘n koppie koffie in die bed en lees Rapport. Maar die lekkerste van Sondae is dat dit dan tyd is vir familie en vriende. Daardie heerlike lang stadige kuiers om ‘n tafel, met bakke tuisgemaakte kos en ‘n paar glase wyn. Ons klets dan oor ons land se politiek, lag, skinder ‘n bietjie, deel ons hartseer of raak saam opgewonde oor nuwe avonture en projekte in ons lewens.
Irriterende low carb mense
Ek is gewoonlik nie vol nonsens as dit by kos kom nie, maar deesdae is ek óók een van daardie irriterende low carb mense. “Nella, wat kan ek Sondag vir poeding bring? Ek is lus om ‘n apple crumble te maak,” wou my vriend Reyno anderdag weet. In plaas van om soos gewoonlik te sê “Enigiets sal lekker wees” laat weet ek toe skaamteloos en voorskriftelik met ‘n whatsapp-boodskap: “Ons low carb mos nou. So maak eerder iets soos sjokolademousse. As jy wil apple crumble maak moet jy asseblief ‘n low carb tertkors en versoeters gebruik.” As ek Reyno was sou ek Nella in haar peetjie gestuur het en daarom wil ek nou sê: “Jammer, Reyno!”
Reyno se low carb sjokoladetert
Maar soos Reyno is, het my versoek hom nie omver gegooi nie, maar eerder geïnspireer. Hy kom toe Sondag met die lekkerste, rykste, luuksste, fluweelglad low carb sjokoladetert by my huis aan. “Nee jong jy het my nou sommer lekker laat dink en ek het die kors van klappermeel gemaak en toe sommer sout bygegooi. Die vulsel is Raymond Blanc se resep.” Mense en is dit lekker! Ek is nie baie lief vir soetgoed nie, maar die soutige kors het die soet gebalanseer en ek het sommer twee groot stukke sonder skroom of skaamte geëet. Hy het ‘n klein bietjie mielieblom gebruik, maar meer low carb glo ek nie ‘n sjokoladetertjie kan nie.
Sjokolade is gesond
Navorsing het boonop bewys dat donkersjokolade goed is vir jou hart. Een studie wat in 2012 gedoen is, het bevind dat matige daaglikse inname van donkersjokolade van ten minste 60%–70% kakao die risiko vir ’n nie-noodlottige hartaanval en beroerte kan verminder. (Bron: Volksblad)
Geniet jou dag en moet nie sleg voel as jy na ‘n stukkie sjokolade gryp nie 😉
Reyno se low carb sjokoladetert met soutige klapperkors
Kors
125 ml botter, gesmelt
2 eiers
10 ml growwe seesout
180 ml klappermeel
Vulsel
500 ml dubbeldik room
200 g sjokolade (70% kakao), in stukkies gebreek
45 ml kakaopoeier, gesif
10 ml sterk koffiepoeier
45 ml versoeter (Reyno het suiker gebruik, ek het dit vervang met versoeter)
10 ml ekstra suiwer olyfolie
30 ml mielieblom
60 ml volvet-melk
Kors: Voorverhit oond tot 200 °C. Klits botter en eiers met ‘n vurk. Voeg klappermeel en sout by, roer tot deeg bymekaar kom en ‘n bal vorm. Rol uit en druk in gesmeerde tertpan. Prik die deeg met ‘n vurk. Bak vir 5 minute teen 200 °C grade. Draai af tot 160 °C en bak vir nog 5 minute of tot ligbruin. Laat afkoel in pan.
Vulsel: Gooi die room in ‘n kastrol en voeg die sjokolade, kakao, koffiepoeier, versoeter en olyfolie by. Oor medium tot lae hitte, roer totdat sjokolade gesmelt het en die mengsel glad is – sonder dat die room gekook het. Meng die mielieblom en melk saam tot glad. Haal sjokolademengsel van die stoof en roer die mielieblommengsel by. Plaas terug op stoof teen lae hitte. Roer tot die mengsel verdik (so 10 minute) het sonder dat dit kook. Dit is reg wanneer dit die agterkant van ‘n houtlepel bedek en as jy jou vinger oor die lepel trek dit die lyn behou. Giet die sjokolademengsel in ‘n bakkie en bedek dit met ‘n klam stukkie bakpapier (maak ‘n stukkie bakpapier nat en druk die ergste water uit). Plaas vir 15 minute in die yskas. Verwyder die sjokolademengsel uit die yskas en roer liggies voordat die mengsel in die koue gebakte kors in die tertpan gegooi word. Hou die tert in die tertpan oornag in die yskas. Dit moet nie langer as 24 uur afkoel nie, aangesien die kors gaan sag word. Haal uit yskas 10 minute voor bediening en sif nog ‘n bietjie kakaopoeier oor.