Ek so n rukkie terug by my vriend Louis Verwey in Castellón de la Plana, Spanje gekuier. Louis is ʼn boerseun van Willowmore se wêreld en bly al vir vyf jaar in die land van tamaties en bulle.
In Castellón de la Plana is dinge stadig, rustig en die inwoners is regte sosiale wesens. Voor werk ontmoet vriende mekaar al vir ʼn koffietjie en na vyf kom hulle by die taskas (straat kroëe) bymekaar vir ‘n yskoue cerveza (bier) en tapas.
Tapas het die afgelope paar jare soos ‘n veldbrand oor die wêreld versprei en is vinnig besig om die aanmatige stywe restaurant-styl van eet oor te neem. Dit is wonderlike nuus vir my, want die vinger-eetstyl is rustiger en gemakliker en ʼn heerlike manier om saam met vriende en familie te kuier. En dan is die klein bordjies kos nie net gepak met geur (veral baie knoffel) en tekstuur nie, maar dit is ook ʼn baie gesonde manier van eet.
Wat beteken die woord Tapas?
Die woord “tapas” is afgelei van die Spaanse werkwoord “tapar” wat “om toe te maak” of “deksel” beteken. Daar is soveel legedes oor die oorsprong van tapas, maar die mees algemeenste wat ek kon opspoor is dat mense toentertyd ʼn item (bv. brood) bo-op ʼn drankie geplaas het om die vrugtevlieë uit te hou. Hulle het toe later ʼn koshappie bo-op hierdie “deksel” gesit en so sê hulle is tapas gebore. Wel, al wat ek kan sê is: dankie vrugtevlieë!
Louise verduidelik: “Tapas word gesien as ʼn proppie. So, die klein happies kos wat jy eet is fisies ʼn proppie wat jy in jou maag sit terwyl jy drink. Dit beteken jy kan langer kuier en ook nie té gou té vrolik raak nie.” Ja nee, kyk, die Spanjaarde is ʼn lawaaierige en vrolike nasie en het definitief proppies nodig om hulle deur hulle gefuifery te help. Hulle naweke begin sommer al Donderdae-aande en maak eers vroegoggend Maandae klaar. Terwyl ek hier kuier moes ek ook in ‘n ander proppie belê – ʼn oorproppie vir al die lawaai.
Louis vertel verder dat tapas eintlik mense aanmoedig om met mekaar te praat, want jy is nie gefokus op jou bord kos nie, maar eerder gefokus op die geselskap. Nou dit maak mos nou heeltemal sin vir my.
Wanneer eet die Spanjaarde tapas?
Omdat aandete in Spanje eers na tien saans bedien word is daar ʼn lang wagtydperk van na werk tot en met aandete. So na werk kom mense by taskas en restaurante bymekaar om ʼn drankie te geniet en aan tapas te smul – als voor aandete. Tapas kan ook natuurlik voor middagete geëet word.
Mees bekendste tapas in Castellón de la Plana en Spanje
“Tapas verskil van streek tot streek” sê Louis, “maar hier in Castellón de la Plana kraai patatas bravas (diep gebraaide aartappels met aioli), jamón (Spaanse ham), torraeta de anchoas (roosterbrood met ansjovis) en ensalada de tomate (tamatieslaai) koning. Ander gewilde tapas in Spanje is natuurlik chipirones (diep gebraaide baba seekat), banderillas (piekels op ʼn stokkie), albóndigas (frikadelle) en bacalao (gesoute kabeljou en tamatie op ʼn stukkie brood).”
Tapas in Suid-Afrika
My gunstling tapas restraurant is Liam Tomlin se Chefs Warehouse and Canteen in Kaapstad. Liam is briljant en sy boek Tapas sal is n groot inspirasie vir enige tapas maker. Gaan loer gerus op www.liamtomlintapas.com.
Patatas bravas
(gebraaide aartappels met aioli)
4 groot aartappels, geskil en elkeen in ses stukke gesny
olie vir diep braai
sout
soet paprika (nie gerookte paprika)
Aioli
2 groot knoffelhuisies
n groot knippie sout
1 groot eiergeel
50 ml olyfolie
Aioli: Plaas die knoffel en sout in jou stamper en vysel en stamp fyn. Gooi die eiergeel by en meng goed. Voeg nou die olie bietjies vir bietjies by (omtrent ½ teelepel op ‘n slag) terwyl jy dit aanhoudend roer. Dit vat omtrent 5 minute om al die olie by te voeg en as jy klaar is moet dit jou aan ‘n dik mayonnaise herhinner.
Aartappels: Kook die aartappels vir vyf minute in water. Dreineer en sit in yskas vir ʼn uur. Diep braai die aartappels tot gaar. Dreineer op papierhanddoek en geur met sout. Bedien aartappels op ‘n bord, skep ailo oor en sprinkel met paprika.
Geheime vir aioli maak
Wanneer jy die olie byvoeg gooi dit langs die kant van die vysel in. Nie direk op die eier nie.
Die roer beweging van die stamper moet altyd in dieselfde rigting wees. Hoekom weet ek nie, maar Louis het amper die horries gekry toe ek onbewustelik in ‘n ander rigting begin roer.
Moenie dat iemand oor jou skouer loer wanneer jy dit maak nie, die Spanjaarde glo dat jou aiolie dan ‘n mislukking gaan wees.
Torraeta de anchoas
(roosterbrood met ansjovis en paprika)
1 klein baguette (gebruik ou brood), in lengte in die helfte gesny en in vier stukke gesny
2 knoffelhuisies
4 eetlepels olyfolie
2 teelepels paprika
12 stukkies ansjovis
Verhit die oond tot 160 °C en bak die brood tot ligbruin en bros. Laat effens afkoel. Smeer die rou knoffel oor elke stuk brood – omtrent ʼn halwe knoffelhuisie per broodjie. Gooi mildelik met olyfolie (+- 1 eetlepel per stukkie brood).
Strooi baie paprika oor (+- ½ teelepel per broodjie) en rond af met stukkies ansjovis.
Ensalada de tomate
(tamatieslaai)
2 groot tamaties, in groot stukke gesny
1 medium ui, in groot stukke gesny
2 knoffelhuisies, fyn gesny
50 ml olyfolie
25 ml wit druiweasyn
10 swart olywe
sout na smaak
Meng als saam en bedien dadelik.
Anel this is awesome
I ber you had a ball in Spain
Lots of love
Mary