#braai die perfekte #steak met die 3-3-3-formule – #braaidag

#braai die perfekte #steak met die 3-3-3-formule – #braaidag

Steak met brandewynpepersous - Foto Michelle Lategan

Steak met brandewynpepersous – Foto Michelle Lategan

Komende Saterdag is Nasionale Braaidag. Hoera! Nie dat my Ier enige aanmoediging nodig het om te braai nie, want hy sê mos: ”Friday is braai day. Saturday is braai day and Sunday is braai day too.” En as hy in die week ‘n kansie kry steek hy, tot my ergernis, weer die vure aan. Maar my liewe man kan nou maar net nie ‘n steak ordentlik braai nie. Óf hy maak dit te gaar óf hy probeer dit ná 10 biere oor koue kole braai. Mansmense tog!

Hoe om die perfekte steak te braai
Ek het verlede week een van Hussar Grill se steakmeesterklasse bygewoon en Sjef Greg Bax het ons touwys gemaak: “Maak seker dat die steaks kamertemperatuur is en nie direk uit die yskas gebruik word nie. Jou kole moet baie warm wees (gloeiend) en die skoon rooster moet liggies met sonneblomolie of olyfolie gesmeer word sodat jy die steaks maklik kan omdraai. Verf jou steaks ook liggies met olie en geur met jou gunsteling speserye. Ek verkies sommer net sout en peper. Gebruik ‘n tang (nooit ‘n vurk nie) om jou steaks om te draai. Die steaks moet toegelaat word om vir ten minste drie tot vyf minute te rus.”

As jy dit op ‘n gietysterriffelpan wil gaarmaak moet jy die pan rookwarm maak (ons panne het die aand vir ten minste 5 minute op ‘n groot gasvlam gestaan) en geen olie op die pan smeer nie. Onthou jy moet die steak met olie verf nie die pan nie.

Sjef Greg Bax van Hussar Grill: Foto Michelle Lategan

Sjef Greg Bax van Hussar Grill: Foto Michelle Lategan


Die 3-3-3 formule vir ‘n perfekte medium-rou steak
Gregg het ons geleer om die 3-3-3 formule te gebruik om ‘n perfekte medium-rou steak gaar te maak. “Braai een minuut aan elke kant vir elke een cm dikte. So, as die steak 3 cm dik is braai jy dit drie minute aan die een kant, drie minute aan die ander kant en laat dit vir so drie minute rus. Moet nie aan die steak andersins karring nie. Die totale braaityd is dus ses minute.” Dit is dit! Hou jou selfoontydhouer byderhand, moet dit nie ‘n sekonde meer of minder braai nie en ek belowe jou dat jy die mees perfekste medium-rou steak gaan braai. Hoor ek ‘n hiep-hiep?
Foto: Michelle Lategan

Foto: Michelle Lategan

Maklike stokmenger Béarnaise-sous
Béarnaise was nog altyd vir my ‘n nagmerrie om te maak, want dit skif gewoonlik. Maar met die onfeilbare stokmenger-metode sal ek dit nooit weer oor ‘n dubbelkoker probeer maak nie. Gooi die dragon-asyn saam met jou eiergele in die stokmengerhouer en terwyl jy dit oor medium spoed blits, gooi jy die gesmelte botter baie stadig by. So maklik soos dit!

img_0089-red
Die perfekte wyn saam met jou steak
Die aand by Silwood het Ernst Gouws ons bederf met sy wyne. Een van my gunstelinge van die aand was die die Ernst Gouws & Co Merlot 2014. Soos hulle self sê: “A savoury masterpiece. A richly-satisfying mouthful of dark plums and stewed fruit, this Merlot is full of earthy flavours with dark chocolate hints, savoury dried meat and plenty of spicy highlights.” Heerlik! Ja, ek dink ek het bietjie te veel van die masterpiece agter die blad gehad want ek het die volgende dag maar bietjie gesukkel. Maar dit was die moeite werd.

Wynmaker Ernst Gouws

Wynmaker Ernst Gouws

Hussar Gril se steakmeesterklasse R450/kop
Ek wil almal aanbeveel om dié meesterklasse by te woon. Dit is groot pret, jy gaan baie leer, lekker steak eet en ook heerlik weglê aan Ernst Gouws & Co se wyne. Vir besprekings kontak Silwood Cooking School by 0216864894 of cooking@silwood.co.za

Steak met Béarnaise-sous - Foto Michelle Lategan

Steak met Béarnaise-sous – Foto Michelle Lategan

Maklike stokmenger Béarnaise-sous
Genoeg vir 4
20 ml witasyn
20 ml water
4 ml gekapte vars dragon of ‘n groot knypie gedroogde dragon (tarragon)
1 ml sout
knypie peper
10 ml water
2 eiergele
190 g botter, gesmelt
rooipeper (na smaak)
suurlemoen (na smaak)

Gooi die asyn, water, dragon, sout en peper in ‘n potjie en verminder oor lae hitte tot 10 ml.
Verwyder van die hitte en voeg 10 ml water by. Voeg saam met eiergele in ‘n mengbak en verwerk teen medium spoed met stokmenger (stick blender) tot dik en romerig. Voeg nou die botter baie stadig bietjies vir bietjies in ‘n klein stroompie by en verwerk goed na elke byvoeging. Wanneer al die botter bygevoeg is, geur met rooipeper en suurlemoensap. As dit te dik is meng ‘n bietjie warmwater by. Bedien teen kamertemperatuur.

Die lekkerste brandewynpepersous
Genoeg vir 4
50 g botter
10 ml gemaalde swartpeper
15 ml sagte donkerbruin suiker (treacle)
30 ml brandewyn
65 ml port
150 ml beesvleis ekstrak
160 ml room
Knypie sout

Smelt die botter, voeg die suiker by en kook tot die botter verbruin het. Gooi die swartpeper by en braai dit verder vir so twee minute. Voeg die brandewyn by en flambé. Verwyder van die hitte totdat die vlam dood is. Voeg die port by en prut tot die alkohol verdamp het. Gooi die beesvleisekstrak by en verminder tot ¾. Gooi die room by en verminder tot dit verdik het. Geur met sout.

One Response »

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

* Copy This Password *

* Type Or Paste Password Here *