Deesdae tussen die woel van die werk, die inboks, die verkeer, die afgraderings en om by die Zuma-proteste te wees, is daar nie tyd om te lank in die kombuis te werskaf nie. Ek weet wragtig nie hoe my ma en pa met voltydse werke, vier kinders, twee honde en vier katte deur hulle lang lys van verpligtinge gekom het nie én dan was daar nog elke dag ‘n feesmaal op die tafel.Ek sukkel klaar om my vol-nonsens-Ier elke aand kos te gee tussen al my moet-doen-dinge vir die dag en my twee hondekinders, Frankie en Robbie. Was die mense van duisende jare terug ook so besig?
Ja, ons voorvaders was altyd aan die gang met ‘n oorlog of drie, hulle moes heeldag slawe aanmoedig om stene te kap, te trek en bo op mekaar te pak, en dan moes hulle ook so nou en dan ‘n steniging bywoon. As hulle ‘n epos wou stuur het hulle lank gesit en dit met ‘n bytel en hamer uitgekap. Daar was ook nie ‘n Woollies of kitskos restaurante om die hoek nie. Hulle het gaan soek vir hulle vleis en kos, dit self verwerk en dit kon dae lank geduur het voor ou Flintstone met iets oor die skouer by die grot aangekom het.
Onse voorouers het wel toe al rys geëet om hulle honger mae vol te hou – dit is al toentertyd suksesvol gegroei en verwerk. Dit kon, baie belangrik, vir lang tye gestoor word en ook saam gesleep word as hulle vyande op hulle spoor was, of as hulle moes wegskarrel van wettelose barbare.
Pilaf was een van die disse wat die Indiërs, die Turke en die inwoners van antieke Persië geëet het vir daaglikse voeding asook vir godsdienstige feeste. Dit is ‘n fancy woord vir gegeurde rys wat sy naam kry van die Turkse pilav en is gesond, heerlik, veelsydig en vinnig om te maak. Die gewas word eers in olie saam met geurmiddels gebraai en word dan in ‘n aftreksel gaar gekook. Jy kook dit nie met water soos ons met Tastic-rys maak nie.
Vandag gebruik ek die heerlike Oosterse geure komyn, mosterdkorrels, borrie en rissies om my pilaf te geur. Die blomkool en hoender werk perfek saam en met ‘n bietjie kruisementjogurt en vars koljanderblare is dit ‘n gesonde, lekker en vinnige ete in een pan.
As jy ook een van daai mense is wat saam met die hoenders opstaan en saam met die uile gaan slaap, beveel ek dié vinnige pilaf aan…nie net om jou tyd te spaar nie, maar ook om jou familie te beïndruk. Vir my is dit boonop ideaal, want die oorskiet pak ek deesdae na ‘n Zuma-optog as padkos in. Viva Pilaf.
Vinnige hoender- en blomkoolpilaf
(genoeg vir vier)
45 ml olie
450 g hoenderfilette, in blokke gesny
1 medium ui, fyn opgekap
375 ml basmati rys (of rys van jou keuse)
5 ml borrie
7.5 ml komynsaadjies (of fyn komyn)
7.5 ml mosterdsaadjies
5 ml rissievlokkies (opsioneel)
625 ml hoenderaftreksel
400 g blomkool, in klein stukkies gebreek
1.25 ml sout
een suurlemoen, in wiggies gesny
een groot handvol vars koljander, gekap
Verhit die olie in ‘n groot pan of pot oor medium-hoë hitte. Braai die hoender vir ‘n paar minute tot bruin. Skep uit en hou eenkant. Draai hitte af na medium. In dieselfde pan braai die ui tot sag. Voeg die rys, borrie, komyn, mosterd, rissie by, roer goed deur en braai vir drie minute. Voeg die aftreksel, hoender en blomkool by en kook stadig met deksel op vir omtrent 25 minute of tot die rys gaar is en die pan effens droog is. Geur met sout en bedien met suurlemoenwiggies, vars koljander en kruisementjogurt.