Tru-Cape het die lieflikste Flash Gala-appels by my voordeur afgelewer met ‘n gepaste boodskap: Takeaways from nature. Is dit nie mooi nie? Ek kan nie met sulke lieflike appels kook nie en eet dit vars as ‘n versnapering en of gebruik dit in slaai.
My appel-vy-spekboomslaai met fetaroom is ‘n heerlike seisoenale slaai en die fetaroom het al my vriende uitgeboul. Meeste mense maak dit met room, maar melk werk net so goed. Neem twee ringe feta en so +- ¼ koppie melk (of room as jy dit ryker wil hê) en verwerk dit vir ‘n paar minute in jou voedselverwerker of handstok (+-4 minute) tot romerig en glad (met gee feta-stukkies). Gooi ‘n paar blaartjies pietersielie of basiliekruid vir ekstra geur by. As dit te loperig is plaas in die yskas vir so ‘n uur om te verdik.
Die fetaroom is heerlik saam met rou babagroente, met ‘n ciabatta en geroosterde tamaties en dit gee enige slaai daardie romerige soutsmaak wat jy soek. Spekboom is volop en eksperimenteer gerus met dié suur blaartjies in slaaie.
- 2 appels, in dun ringe gesny (plaas in suurlemoenwater tot jy dit gebruik)
- 8 vye, in kwarte gesny
- spekboomblaartjies
- ‘n paar blaartjies basiliekruid en kruisement, nie baie nie
- handvol neute (opsioneel)
- Fetaroom:
- 2 ringe feta, in stukke gebreek
- ¼ koppie melk of room
- gooi ’n paar blaartjies pietersielie en basiliekruid by as jy die fetaroom wil geur
- Fetaroom
- Plaas die feta in die voedselverwerker en pols fyner. Gooi die melk of room by en verwerk vir ten minste 4-5 minute. Skraap die kante elke minuut skoon. Verwerk tot romerig en geen klontjies. As jy dit ‘n bietjie dikker wil hê plaas in yskas om te verdik.
- Slaai: Pak die appels en vye om ‘n slaaibord, sprinkel met kruie en spekboomblaartjies en bedien met fetaroom.