Mei 2014: “Hier is darem maar ʼn moerse storie vandag op die dorp aan die gang,” sê die omie langs ons tafel in The Barking Frog restaurant in Van Wyksdorp. Dit is langnaweek en ek en my vriendin Errieda smul aan ʼn stukkie plattelandse kaneelmelktert terwyl Henry Jones, die restaurant bestuurder, ons trots en met ʼn breë glimlag vertel: “Bertie, die resident padda wat in die restaurant se fonteintjie bly, klink soos ʼn hond wat blaf as dié outjie kwaak.” Werklikwaar? Nou, ek weet nie van julle nie, maar ek het nog nooit in my lewe gehoor van ʼn blaffende padda nie. En dit nogal in Kannaland.

Van Wyks Dorp Teken 800

Dit som dié weggesteekte Klein Karoo dorpie Van Wyksdorp op – kleurvolle karakters, interessante stories, legendes en lekker kos. Maar agter die ou kerkmure en die stofskerms van die grondpaaie lê ʼn geskiedenis wat nog deel is van die kleurvolle en wonderlike mense wat vandag daar bly.

The Barking Frog 800

Soos Thelma and Louise van die destydse film het ons twee stadsjapies en smulpape gelyktydig opgewonde ʼn gilletjie gegee toe ons die ingangsbordjie gewaar wat lees: “Vanwyksdorp Mall”. Van die mall het ons niks gesien nie, maar ʼn Paasnaweek markie het ons vrolik gegroet wat kompleet gelyk het soos iets uit die film Faan se Trein. “Ek is seker ʼn produksiespan is spesiaal ingestuur om dit vir ons aanmekaar te sit,” het Errieda dromerig laat weet.
Klein hout tafeltjies, kleurvolle 1970’s gestreepde strandsambrele, tannies wat tuisgebak verkoop, hulle mans wat hulle met ʼn sigaret in die hand onder die sambrele ondersteun, vetkoeke, kinders wat kaalvoet rondspeel, olywe, appelkooskonfyt, bok choi en ʼn twee tafel biertent! Ons was in die paradys; Thelma en Louise se kos en mense Utopia.

Van Wyksdorp biertent

Van Wyksdorp biertent

Ons stap eerste by The Barking Frog in vir ʼn koppie boeretroos en hier vertel Henry vir ons dat hulle sewe dae ʼn week oop is en partykeer kom daar ʼn hele bus vol toeriste grondpadlangs oor die berg van Mosselbaai. “Weet julle dat jy kan net hier kan uitkom met ʼn grondpad?” vra hy verder. ʼn Koppie koffie kos R15 en melktert, braaibroodjies en pasteitjies sal jou so tussen R22 – R35 uit die sak jaag. Errieda se hoenderpasteitjie word bedien saam met ʼn slaai wat interessante krakerige rou, jong mieliepitte in het. Gits dit was nou ʼn heerlike verrassing – ek het nooit gedink ek sou iets nuuts en lekkers op ʼn klein plattelandse dorpie raak-eet nie.

Soet perfekte koeksisters

Soet perfekte koeksisters

Voor The Barking Frog verkoop Pam du Toit haar selfgekweekte bok choi en glinsterende donkerpers eiervrugte, asook vars kruie en pers blomkool plantjies. Weereens moet ek vra: “Bok choi en pers blomkool plantjies in Van Wyksdorp?” Jip, dit als in die hartjie van die Klein Karoo. Pam gesels lekker en lig ons in dat die omgewing bekend is vir hulle appelkose, olywe en uitvoer droë blomme. Sy nooi ons sommer net daar en dan plaas toe vir ʼn kuiertjie. Ai, die wonderlike plattelandse gasvryheid darem…

Die Nicolene die vetkoek koninging van Van Wyksdorp.

Die Nicolene die vetkoek koninging van Van Wyksdorp.

Ons loop vir Nicolene Dillman, die vetkoek koningin van die dorp, onder ʼn sambreeltjie raak. Terwyl sy die vetkoekdeeg behendig aanmaak en knie vertel sy: “Ons maak die deeg sommer hierso aan soos ons verkoop en soos ons dit nodig het. As jy wil hê moet jy wag, want hierdie baksel moet nou eers so 20 minute reis. Die mince is al gister gemaak.” Hier kon ons kies tussen ʼn kerrie mince of kaas en konfyt vetkoek teen ʼn skamele R12. Lekker, regte plattelandse vetkoek!

Magrieta Struis met haar twee donkies: Breker en Stella

Magrieta Struis met haar twee donkies: Breker en Stella

Magrieta Struis en haar spannetjie donkies, Breker en Stella, het ook ʼn spoggerige draai in die dorp kom gooi om te kom deel aan die Saterdag opwinding. Die twee pragtige diere is in uitmuntende kondisie en Magrieta kyk trots na haar twee kinners nadat sy hulle by die dierebeskermings vereniging gekry het.

Die pragtige kerk

Die pragtige kerk

Daarna ry ons ʼn draaitjie deur die dorp en vergaap ons aan die pragtige kerkie met al sy pragtige detail. Ons stop ook by die polisiekantoor waar Konstabel Swanepoel vir ons vertel dat die pragtige mosaïek werk op die polisiekantoor se mure deur een van die polisiemanne se vrouens gedoen is. Hoe talentvol en kreatief. Bravo Van Wyksdorp, bravo!

Die pragtige mosaïek werk op die polisiekantoor se mure

Die pragtige mosaïek werk op die polisiekantoor se mure

Baie ure later terwyl die jongklomp hulself nog in die biertent besig hou met yskoue biere en lawaaierige musiek het ons die grondpad terug na ons naweek berghuisie aangepak. Die groot “moerse” storie wat die dag in Van Wyksdorp gebeur het, is verby. Omie, nou moet ek net sê: “Dankie, dit was ʼn lekker storie!” Ons het ons voetspore in die wonderlike Klein Karoo dorpie agtergelaat, maar Van Wyksdorp en sy mense, kos, paddas en donkies het diep spore in ons harte getrap.

Waar is Van Wyksdorp?

Van Wyksdorp is geleë op die R327, 42 kilometer van Ladismith
The Barking Frog
Henry Jones 083 653 8009 | 028 551 2597
Meer oor Van Wyksdorp
vanwyksdorp.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

* Copy This Password *

* Type Or Paste Password Here *