
Terwyl ek hier sit en skryf sit my ma voor die gasverhitter in die sonnetjie in my sitkamer en luister na RSG se oggendstorie met die nuwe Sarie Kos op haar skoot. Haar ogies val-val toe. Babs gee kort-kort ‘n kuggie, want die bors sukkel ook maar deesdae. Ek weet nie altyd of sy slaap en of sy net rus nie. Sy is nou 87 en die jare stap aan. Wat ‘n voorreg dat sy my nog kan kom geselskap hou terwyl my Ier vir besigheid in Johannesburg is.
Babs stap deesdae stadiger, haar skouertjies raak effens krommer en sy word al hoe meer vergeetagtig, iets wat vir ons almal voorlê. Soos sy altyd sê: “Oudword is nie vir sussies nie, my kind.” Haar sagte broosheid maak my hart baie seer en ek wil haar net druk, soen en koester. Ek onthou Babs wat hokkie gespeel het, Babs wat my drie stoute broers met ‘n stywe hand beheer het, Babs wat tot laat aande skoolwerk nagesien het, elke dag gesorg het vir kos op die tafel, my rokkies gemaak het, my truie gebrei het – ek is so dankbaar ek het haar as my ma gehad. Sy was (is!) pragtig, energiek en ‘n liefdevolle mens. Sy is vandag nog net so pragtig-grys, maar die energie is nie meer daar soos wat dit was nie. Ek besef ek is baie bevoorreg om Moedersdag met haar te kan deel.
Moedersdagkoek
Koekbak en koekversier is nie heeltemal my forte nie; ek hou van kook en sukkel om ‘n koekresep soos ‘n wetenskaplike aan te pak. Ek wil altyd iets verander en julle weet dit werk nie met bak nie. Bestanddele moet mos presies afgemeet en geweeg word en niks kan met die oog geskat word nie. Vandag het ek Herman Lensing se sponskoekresep gebruik en ma se gunsteling, ‘n vanieljesponskoek gebak. Ek het op die koop toe sommer ‘n koekversierkursus bygewoon. Wat ‘n kreatiewe belewenis! Ek het my meesterstuk (ja, ek spog lekker) met een van ma se 51-jaar oue teekoppies en ‘n klein koolkoppie uit my tuin, wat die droogte oorleef het, afgerond. Ek is gek daaroor!
Gelukkige Moedersdag, Ma. Dankie vir alles wat ma vir my oor die jare gedoen en beteken het. Ek het jou lief met my hele hart. En gelukkige Moedersdag aan al die ander ma’s wat net so goed vir hul kinders is. Wat sou ons sonder julle gedoen het?
Vanieljesponskoek
200 g koekmeel
20 ml bakpoeier
10 eiers
210 g strooisuiker
10 ml vanieljegeursel
120 g botter, gesmelt
vanielje botterversiersel
teekoppie en piering
baba-kool
Verhit oond tot 180 ˚C. Sif meel en bakpoeier saam. Herhaal die proses drie keer – dis belangrik om te verseker daar is baie lug tussen die meelkorrels vasgevang. Breek eiers in skoon mengbak en voeg suiker en vanilla by. Klits teen hoë spoed vir 8 – 10 minute of tot dik en skuimerig. Vou gesifte meel en bakpoeier versigtig by eiermengsel in. Gebruik ‘n groot metaallepel en vou in die vorm. Voeg gesmelte botter by en vou weer versigtig in. Voer 2 x 25 cm-koekpanne met bakpapier uit en spuit goed met kleefwerende kossproei. Verdeel mengsel tussen die twee panne. Bak vir 20 – 25 minute of tot goudbruin en gaar. Keer uit en laat afkoel. Versier met vanieljebotterversiersel, ‘n teekoppie en iets uit jou tuin wat die droogte oorleef het.