Soos jy dalk vir jou gunsteling sanger wag om ‘n nuwe CD uit te reik, so wag ek vir skrywers en hulle kookboeke. Johanne 14 geskryf deur Hope Malau is een van daardie resepteboeke waarvoor ek nou al jare my tande slyp. Dit is een van daardie Suid-Afrikaanse skatte wat almal sonder twyfel op hul rakke moet hê. Dit gee jou ‘n eerlike en unieke insig oor die harde lewe in die townships, die onopgesmukte heerlike kos en kleurvolle kultuur.
Die vermoë om iets lekker op te tower met baie min is gevestig in die koskultuur van Suid-Afrika se townships. En dit is presies waaroor hierdie kookboek gaan. Dit gaan oor kool, hoender, “runaways”, pilchards, vetkoek, skaapkoppe, poetoepap, lewer, beeshart, baie liefde, geloof en sterk familiebande.
“Laat julle harte nie ontsteld word nie…” Johannes 14:1 is ‘n baie gewilde bybelversie onder die Zion Christelike Kerk met miljoene lede. Malau se kookboek handel oor eenvoudige kos wat met liefde gemaak is – en dié se krag om elke ontstelde hart te kalmeer en beter te laat voel. Maar Johanne 14 beteken ook iets anders … in die townships is dit ‘n ander naam vir kool.
Naas mieliemeel is kool die stapelvoedsel in die townships. ‘n Koolkop is bekostigbaar, kan op verskeie maniere gaar gemaak word en dit verskaf elke keer ‘n heilsame en gesonde maaltyd. Daarom het dit liefdevol as Johanne 14 bekend geword: as jy kool het, moet jy nie jou hart ontstel nie, want daar sal altyd iets op die tafel wees om te eet. Koolslaai staan ook in sommige gemeenskappe bekend as John 14 Salad … omdat dit, soos Johannes 14:1, by belangrike geleenthede bedien word.
Gebraaide hoender en koolslaai
Wanneer dit by padkos kom, is gebraaide hoender altyd die nommer een keuse. Dit hou langer as dit gebraai is en kan ook maklik met ander pendelaars gedeel word. “Op Sondae word gebraaide hoender met koolslaai bedien. Ma het altyd ‘n pak 2 kg hoenderstukke met haar geheime speserye gemaak en die eindprodukte was altyd hemels,” vertel Hope.
Hoenderpote
Maotwana (wat “pote” in Setswana beteken) is ook bekend in die townships as “walkie- talkies”, en word meestal aan skoolkinders as ‘n goedkoop middagete verkoop. Die binnekant van die pote is die sappigste en die lekkerste en tradisioneel word dit in ‘n pot gekook totdat die pote klewerig en taai is. Maar die nuwe neiging is om dit vir ‘n ekstra geldjie op die straathoeke te braai.
Johanne 14 is ‘n absolute juweel met wonderlike resepte, hartroerende stories, pragtige foto’s en briljante stilering … iets waarop jy gerus jou hardverdiende geld op kan spandeer.
WEN
Een leser kan ‘n kopie wen. Epos die antwoord vir die vraag hieronder na anelpot@telkomsa.net met JOHANNE 14 in die “subject line”:
Wie is die fotograaf en stilis van Johanne 14?
Sluitingsdatum: 28 Julie 2017
Johanne 14 word uitgegee deur Quivertree en kos R275.
quivertreepublications.com
Gebraaide hoender
(Bedien 6-8)
4 eiers
60 ml water
250 ml warm brandrissiesous, soos Sriracha
260 g koekmeel
15 ml bakpoeier
sout en swartpeper
olie vir braai
1 kg hoenderstukke
Klits eiers met die water in ‘n mengbak. Voeg rissiesous by en klits saam. In ‘n ander mengbak meng meel, bakpoeier, sout en peper saam. Verhit olie in ‘n groot diep pot. Doop ‘n paar hoenderstukke in die eiermengsel en bedek deeglik. Een stuk op ‘n slag rol hoender in die meelmengsel en plaas dit in warm olie. Braai hoender tot bruin en bros. Dreineer op papierhanddoek.
Koolslaai
(Bedien 4)
½ kool, fyn gekerf
2 wortels, gerasper
200 ml mayonnaise
30 ml witwynasyn
10 ml bruinsuiker
knypie mosterdpoeier
Skep kool en wortel in ‘n slaaibak. Klits die mayonnaise, asyn, suiker en mosterdpoeier saam in ʼn ander mengbak. Voeg die slaaisous by die koolmengsel en meng goed. Plaas in die yskas vir ten minste 1 uur voordat jy dit bedien.
Hoenderpote
(Bedien 4-6)
15 ml olie vir braai
1 klein ui, gekap
2 knoffelhuisies, gemaal
2 rooi rissies, gemaal
250 ml tamatiesous
100 g bruinsuiker
200 ml coca-cola
60 ml worcestershire-sous
sout en peper
5 ml brandrissievlokkies
1 kg hoenderpote, skoongemaak
Verhit olie in ‘n pan en braai uie, knoffel en brandrissie oor medium-hoë hitte tot sag. Roer tamatiesous, suiker, Coca-Cola, Worcestershire-sous, sout, peper en brandrissie by. Verminder die hitte tot laag en laat prut, roer af en toe, vir 15 minute. Verhit ‘n riffelroosterpan (of doen dit op die braai). Bedruip die hoenderpote met die sous en braai vir 8 minute terwyl jy aanhou draai en met sousie te smeer.