Tag Archives: koedoe

koedoebiltong + bessies + laventel

koedoebiltong + bessies + laventel

Koedoebiltong- en bessieslaai met laventel en balsamiese reduksie

Probeer hierdie heerlike en maklike slaai. Bessies is nou in seisoen en wildsvleis en bessies is uitstekende pasmaats. Ek het bietjie feta bygevoeg vir daardie ekstra soutigheid … saam met balsamiese reduksie en ‘n paar klein laventelblommetjies is dit een van my 2017 koshoogtepunte. Moet nie dink dit is te volksvreemd nie – probeer asseblief. As jy ‘n happie van als saam vat swem die outjies vlinderslag oor jou tong en kry dit ‘n baie tevrede lêplekkie in jou maagholte.

Koedoebiltong- en bessieslaai met laventel en balsamiese reduksie

(ek gee hier nie die hoeveelhede nie, gebruik soveel soos jy lus het)
gemengde slaaiblare
klam koedoebiltong (vra vir jou slagter vir ‘n klam stukkie, nie die harde stukkies wat jy gewoonlik in die winkels kry nie)
aarbeie
bloubessies
frambose
fetakaas
goeie balsamiese reduksie (koop dit by enige goeie winkel)
laventelblommetjies (moet nie te veel gebruik nie)

Pak al die slaaibestanddele uit op ‘n pragtige bord. Ek pak eers die blare uit dan begin ek die res versigtig bo-op pak in dieselfde hoeveelhede. Sprinkel balsamiese reduksie oor en rond af met ‘n paar baie klein laventelblommetjies.