Tag Archives: bloody mary; tamatieslaai

Bloody Mary-tamatieslaai

Standard

Na ‘n rowwe aand uit is ‘n yskoue Bloody Mary net die regte medisyne. Maar dié drankie is meer as  net kuur vir ‘n babelaas. Die New York Times beskryf dit as die perfekte paring van bestanddele. Die soet-suur tamatie en vodka, gebalanseer met bros seldery, Tabasco, Worcestersous, swartpeper en afgerond met suurlemoen. Hierdie elemente is ook die inspirasie vir ‘n eenvoudige somer-tamatieslaai. Seldery en ui word fyn gesny en in suurlemoensap, sout en suiker gepiekel. Ek het nog nooit seldery gepiekel nie en wat ‘n heerlike smaakverrassing. Die slaaisous wat van sojasous, balsamiese asyn, Tabasco gemaak word is ‘n umami-lekkerte. Die tradisionele Worcestershire (wat ansjovis bevat) is met sojasous vervang vir ‘n vegan-slaaisous. Ek en my Ier (wat gewoonlik glad nie Tabasco of seldery eet nie) het heerlik gesmul aan die slaai. Sláinte.

Bloody Mary-tamatieslaai

Bedien 3

Piekel

1 selderystingel, fyn gesny

1 uitjie, fyn gesny

2 e suurlemoensap

¼ t suiker

¼ t sout

Ander bestanddele

2-3 tamaties, in agstes gesny

kersietamaties, in helftes gesny  
soutvlokkies

swartpeper

‘n paar pietersielie-blaartjies

Slaaisous
1 e sojasous (of Worcestershire-sous)

1 e balsamiese asyn

5 ml vodka

½ t Tabasco-sous (of meer na smaak)   

1 klein knoffelhuisie, gerasper

2 e olyf-en-saadolie (nie ekstrasuiwerolyfolie nie)

Piekel: Gooi die seldery, ui, suurlemoensap, suiker en sout in ‘n bakkie, meng deur en laat staan vir ten minste 15 minute. Dreineer.

Slaaisous: Meng al die bestanddele saam.  

Slaai: Plaas die tamaties in ‘n bak en voeg die seldery en ui by. Gooi die slaaisous oor en geur met sout en peper. Roer liggies om te meng en rond af met ‘n paar pietersielieblaartjies.